’n Sluier van geheimhouding is Dinsdag getrek oor die voormalige president van Mosambiek wat in 1 Militêre Hospitaal behandel word.
Bespiegelings was Dinsdag in Mosambiek dat hy dalk vergiftig is.
Oudpres. Armando Guebuza is vroeg Maandag te midde van streng veiligheidsmaatreëls in die BBP-afdeling van die hospitaal opgeneem.
Gewapende wagte bewaak dié vleuel op die derde verdieping van die hospitaal, terwyl al sy klere en breekgoed spesiaal ontsmet word.
Volgens Netwerk24 se inligting word hy vir cholera of ’n soortgelyke maagsiekte behandel.
Adj.pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag net voor ete vir hom gaan kuier. Ramaphosa se kantoor het egter alle navrae na die departement van buitelandse sake verwys. Dié het navrae weer na die ministerie van verdediging verwys, wat dit na die weermag se media-afdeling verwys het. Teen Woensdagmiddag het dié afdeling nog nie op Netwerk24 se navrae gereageer nie.
Die Mosambiekse hoë kommissariaat se personeel was almal in KwaZulu-Natal besig met die ontruiming van hul landsburgers te midde van xenofobiese aanvalle dáár.
Die hospitaal moes vandeesweek spesiaal ’n wasmasjien gaan koop om Guebuza se klere en beddegoed apart te was omdat die hospitaal se wasmasjiene nie werk nie.
Een hysbak is vir die publiek gesluit sodat sy besoekers ongestoord na sy kamer geneem kan word. Daar is selfs ’n rooi tapyt na sy kamer gelê.
Guebuza het twee weke gelede te midde van grootskaalse konflik tussen hom en sy opvolger as president, Filipe Nyusi, ook as leier van Frelimo bedank.
Sedertdien is hy in die media gekasty as die verloorder in die stryd met die veel jonger Nyusi (55). Die dag van die uittreding is “bloedige Sondag” genoem.
Volgens ingeligtes het Guebuza nadat hy as president deur Nyusi opgevolg is, aanvaar dat hy as leier van Frelimo steeds die magtigste leier in Mosambiek sou wees.
Ná intense struwelinge tussen hulle die afgelope drie maande sedert die presidentsverkiesing het Guebuza se besluit om skielik te bedank Frelimo onverhoeds betrap.
Nyusi is kort daarna met die uitsondering van enkele stemme tot die party se nuwe leier verkies.
Guebuza het ernstig in party-onguns verval toe hy in ’n striemende aanval deur sy makkers in die party daarvan beskuldig is dat hy intimidasie gebruik om ernstige vrae oor sy leierskap te ontduik.
Frelimo het die afgelope paar jaar toenemend onder skoot gekom daaroor dat hy uit voeling met die opkomende jonger geslag geraak het en daarom nie meer omgee vir probleme op voetsoolvlak nie. Staatskorrupsie het hoogty gevier.
Die verkiesing van Nyusi en ’n rits nuwe hervormings wat hy sedertdien aangekondig het, het die hoop laat opvlam dat die party uiteindelik gehoor gegee het aan dié probleme.
Damaio José, woordvoerder vir Frelimo, het ná Guebuza se bedanking gesê hy het dit gedoen ter wille van eenheid in die party.